Tuesday, February 4, 2014

ZILLE EN KIE. SAL OORLEEF, RAMPHELE NIE




(My brief in vandag se Beeld)

Staatsmanskap is nie almal beskore nie. Dr. Mamphela Ramphele, goeie talente en ’n indrukwekkende getuigskrif ten spyt, is ’n goeie voorbeeld.
Haar ego en politieke onvolwassenheid het haar pas weer oor ’n groot historiese oomblik laat struikel.
Die DA sal hierdie dramatiese week oorleef. Agang en sy leier, egter, staar ’n vernederende nederlaag by die stembus in die gesig. Nog ’n waarheid is dat die land steeds in ’n wedloop met die tyd gewikkel is. Helen Zille se mislukte, maar opregte poging om met Ramphele die ANC se raskaart-retoriek finaal te neutraliseer, moet ware demokrate nie ontmoedig om die toekoms dapper tegemoet te gaan nie.
Die ANC verkeer in ieder geval in groter moeilikheid omdat al hoe meer Suid-Afrikaners hulle regmaak vir Rubicon-oomblikke. Waaghalsige politiek het altyd ’n element van risiko.
Die grootste risiko vir die DA en Suid-Afrika is om nie risiko’s te loop nie. Die strewe na ’n volwaardig, lewensvatbare veelparty- politieke stelsel sal nie sonder stampe en stote gebeur nie. Die uitdaging vir die DA en sy ondersteuners is om vas te byt en deur te druk.