Monday, September 30, 2013

VRYHEID MET MENSWAARDIGHEID




(My brief in gister se Rapport)

In ’n land met baie negatiwiteit en sinisme is die verfrissende insigte van JP Landman welkom.

Hanlie Retief se onderhoudende gesprek met Landman (Rapport, 22 September) noop ’n mens om gevestigde opvattings te herwaardeer.

Optimisme is goed, maar dit kan en mag nie ons plig om krities te dink, vervang nie. Die gesprek of debat tussen politici of mense oor die algemeen moet eerlik omgaan met kwessies en uitdagings van die dag. Ek herinner my aan dr. Frederik van Zyl Slabbert wat by geleentheid gesê het jy kan politici nie vertrou nie.

Die implikasie vir ’n opbouende diskoers is dus dat kritiese denke ’n wesenlike element van konstruktiewe patriotisme moet bly.

’n Lewensvatbare veelpartystelsel waar die regerende party se mag in bedwang gehou word, is ononderhandelbaar – daar moet dus die moontlikheid wees om enige regerende party suksesvol by die stembus uit te daag.

’n Veelparty-demokrasie gaan oor keuses. Die mag moet by die kieser lê en nie by politici nie.

Regeringsmag word verder in bedwang gehou deur werklike onafhanklike en doeltreffende instellings soos die howe en burgerregte-organisasies, asook vrye media. Hierdie instellings is instrumenteel belangrik om ’n oop samelewing te verseker.

Geen regering moet ooit met trefsekerheid kan verklaar dat hy die volgende verkiesing sal wen nie. Sodanige regerings is dan ook meer geneig om beter te regeer.

Dis goed om te weet dat watter party ook al die ANC uit die kussings sal lig onmiddellik met ’n gedugte opposisie te doene sal kry.

Ons is inderdaad ’n diep verdeelde samelewing met wesenlike ongelykheid. Groepsdenke in watter vorm ook al blyk nie die oplossing te wees om dit te takel nie. Gewaarborgde individuele vryheid is die sleutel tot mense se menswaardigheid. Wat dus gevra word, is vryheid wat ons kan gebruik, wat geleenthede skep en menswaardigheid bevorder.

Wednesday, September 18, 2013

KOSPAKKIE-POLITIEK WYS NIKS VERANDER

( My brief in vandag se Beeld)


Blou T-hemde vs. kospakkies, titelaktes en huise. Wat is die verskil en wat sê dit van Suid-Afrika se twee hoofstroom- politieke partye?
Die nou reeds bekende blou T-hemde van die DA is doodgewoon branding, oftewel die uitbouing van ’n handelsmerk. Dit versinnebeeld die amptelike opposisie se idee van ’n oopgeleentheidsamelewing waar individuele vryheid gewaarborg en staatsmag in toom gehou word.
Hierdie handelsmerk-bevordering is ’n aanvaarde praktyk by politieke partye oor die wêreld heen, veral as dit met eie fondsinsameling en nie deur belastinggeld gefinansier word nie.
Die uitdeel van kospakkies en huise het egter niks met die uitbou van ’n handelsmerk te doen nie. Dit verontagsaam die skeiding tussen party en staat.
Die verskaffing van behuising, byvoorbeeld, is ’n regeringsfunksie wat met belastinggeld gedoen word. Om huise uit te deel kort voor kritiese tussenverkiesings is oneerlik en moreel korrup. Dit getuig ook van toenemende onsekerheid by die regerende party oor sy steun.
Dat die tradisionele ANC-ondersteuner onderwerp word aan kospakkie-politiek is ’n aanduiding dat die lewensomstandighede van hierdie kiesers nie veel verander het die afgelope 20 jaar nie. Die ANC buit hul sosio-maatskaplike omstandighede skaamteloos uit.
Hopelik sal hierdie kiesers besef dat ’n kruisie op die stembrief meer werd is as ’n kospakkie of enkele titelaktes elke vyf jaar. Goeie regering beteken deurlopende dienslewering.

Monday, September 9, 2013

LUGKASTELE NIE VAN NUT VIR INWONERS

(My brief in vandag se Beeld)



Die Tshwane-metro se 2055- visie is interessant, maar irrelevant. Dat dit met soveel trompetgeskal aangekondig is, spreek boekdele van beeldpoetsery wat moet vergoed vir swak diens.

Dié visie laat my onwillekeurig dink aan oudpres. Thabo Mbeki se Afrika-renaissannce. Sulke abstrakte konstruksies spreek nie tot mense op voetsoolvlak nie. Vra maar vir Mbeki; hy is verslaan by Polokwane ondanks lugkastele, of dalk weens die lugkastele.

Terwyl die Tshwane-metro sy pragtige visie bekend gemaak  het, was die Wonderboom-lughawe weer vandeesweek vir die hoeveelste keer die afgelope drie jaar sonder brandstof. 

Dit is maar een voorbeeld van die Tshwane-metro se mislukkings.

Brood-en-botter-sake spreek direk tot inwoners van 'n stad. Wat mense verlang, is tasbare bewyse van die politieke wil by die owerheid om deurgaans tot voordeel van inwoners te regeer.