Sunday, December 29, 2013

ZUMA IS DIE KEERPUNT IN SA SE POLITIEK



(My brief in die Beeld van 28 Desember)

Pres. Jacob Zuma is besig om die Suid-Afrikaanse politiek ’n guns te bewys.
Uiteraard onbedoeld, maar tog.
Hy verpersoonlik alles wat ’n president nie moet wees nie: visieloos, arrogant en argaïes.
Sy plundertog wat hom ’n Nkandla toeëien, is ’n wekroep tot besinning oor die tipe land waarin ons wil bly.
Alles dui daarop dat ’n kragdadige werkersparty links van die regering aan volgende jaar se verkiesing sal deelneem.
Dit bring ’n belangrike wending in ons politiek mee. Die drieparty-alliansie se einde is in sig.
Ontleders is dit eens dat Zuma die gesig van die ANC sal wees in die aanloop tot die verkiesing bloot omdat dit te laat is om nou van hom ontslae te raak.
Dat sy leierskap kort ná die verkiesing uitgedaag sal word, is egter seker. Feit van die saak is, die ANC kan Zuma nie langer bekostig nie.
Binne die ANC sal kragte en magte ná die 2014-verkiesing losgelaat word wat hierdie party sal herdefinieer.
Die ANC as ’n “breëkerk-beweging” se einde sal dan aanbreek. Die linkses, nasionaliste en die behoudendes kan nie meer knus langs mekaar bly sit nie.
Etnisiteit sal ook ’n deurslaggewende faktor wees. Omdat die anti-apartheidshandelsmerk van die ANC uitgedien is, sal debatte oor waardes en hoe beleidsvoorstelle kiesers se behoeftes na dienslewering en goeie regering aanspreek toenemend deurslaggewend word.
So beskou, verteenwoordig Zuma die keerpunt in ons politiek.
Die misplaaste romantisering van die ANC as ’n bevrydingsorganisasie het in hom sy laaste stuiptrekking gehad.
Die kiesers het aanbeweeg en soek oplossings vir die talle kwessies waarmee hulle worstel. Die einde van ’n eenparty- gedomineerde politieke stelsel is in sig.

Friday, December 20, 2013

ALMAL MOET VERANTWOORDELIKHEID VIR HUL TOEKOMS AANVAAR



(My brief in die Beeld van 18 Desember)

Mondli Makhanya se opvatting van wit skuld aan Mandela (“Wittes skuld Mandela”, Beeld, 17 Desember) gaan mank aan nuanse.
Laat my dadelik byvoeg, as die artikel eksklusief vir Beeld geskryf is, sou ek dit aanvaar het as skokterapie wat in die regte lig beskou moet word. Feit is, dit is oorspronklik vir City Press geskryf wat ’n moedswilligheid te kenne gee en die skrywer se “ons/hulle”-bril verraai. Dis mos juis waarvan ons moet wegbeweeg, hierdie “ons-teenoor-hulle”-opstellery.
Dat alle Suid-Afrikaners groot dank verskuldig is aan Nelson Mandela is ondebatteerbaar.
Mandela se onselfsugtige diensbaarheid aan gewone mense, byvoorbeeld, is al hoe minder sigbaar in die huidige ANC.
Laat ons eerlik wees met mekaar. Dit is makliker vir wit mense as vir swart mense om apartheid te vergeet. Drie vrae in hierdie verband: hoe verreken ons die verlede, hoe hanteer ons ’n komplekse hede en hoe gaan ons ’n beter toekoms tegemoet?
. Die verlede kan en mag nie ontken word nie. Waarteen egter gewaak moet word, is om die rassistiese verlede so te koester om ’n rassistiese toekoms te regverdig;
. Nelson Mandela se visie van ’n nie-rassige samelewing en rassegelykheid vereis vandag konstruktiewe transformasie. Toegegee, dit gebeur nie vinnig en indringend genoeg nie. Weer eens moet egter daarteen gewaak word om ’n nuwe, verskanste rassisme onder die dekmantel van transformasie te pleeg. ’n Kwota-gebaseerde samelewing, hetsy in die arbeidsmag, op die sportveld of waar ook al, is teenproduktief vir die soort sosiale kohesie waarna ons streef;
. Die toekoms moet reënboog-geskakeerd wees. Nie wit nie en nie swart nie. Divers, dinamies en regverdig.
Artikels met opskrifte wat wit skuld uitbasuin, is passé.
Alle Suid-Afrikaners moet opnuut verantwoordelikheid vir hul toekoms aanvaar en hulle verbind tot ’n vreedsame en voorspoedige toekoms.

Saturday, December 7, 2013

TOEKOMS MAG NIE GESABOTEUR WORD


 ( My brief in vandag se Beeld)


Almal wat lief is vir hierdie land is vandag diep geraak deur die heengaan van oudpres. Nelson Mandela.
Sy onwrikbare geloof in ’n toekoms gegrond op geregtigheid vir almal was lank ’n baken van hoop vir baie Suid-Afrikaners. Dit het wêreldwyd geresoneer as ’n dapper vryheidstryd.
Simbolies het Mandela alles verpersoonlik wat ons as ’n nasie kan, wil en moet wees:

Ons kan mekaar vergewe en vorentoe kyk;
Die meeste Suid-Afrikaners wil in vrede saamleef ongeag verskille; en
Ons moet verantwoordelikheid vir ons toekoms neem.

Min politici styg bo die storm en drang van die onmiddellike uit.
Met sy talent vir staatsmanskap het Mandela hom gevestig as die Suid-Afrikaanse demokrasie se vaderfiguur. Hy sal so in die annale van die geskiedenis gehuldig word.
Herinneringe aan hierdie groot staatshoof alleen is nie genoeg nie.
Ons toekoms mag nie gesaboteer word deur politici wat oneerlik, korrup of swak regeer nie.
Daarom moet ons opnuut verantwoordelikheid vir ons toekoms neem.
Deur dit te doen sal ons die Mandela-droom van vrede, voorspoed en versoening lewend hou.

KEEP THE MANDELA DREAM ALIVE



                                                                                                  

NELSON MANDELA

(July 18 1918 to December 5 2013)

Some will say it is the end of an era. It need not to be so. Everyone who loves this country will be deeply saddened by the passing away of former president Nelson Mandela. His unshakeable belief in a future based on justice for all has been a beacon of hope for many South-Africans. His dedication,  leadership and humanity resonated internationally as an example of a fearless liberation hero. His presence in our collective thoughts manifested as a unifying force that guided our strife for reconciliation.

 From a symbolic point of view Nelson Mandela represented everything we as a nation can, want and should be:

▪We can forgive one another and move on.

▪Most South Africans want to live together in peace despite their differences.

▪We must take responsibility for our future.

Few politicians rise above the 'Sturm und Drang' of every day politics. With his talent for statesmanship, Mandela established himself as the father figure of South Africa'democracy. He will be recognised as such in the annals of history.

Memories of this great statesman alone are however not enough. We must not allow our future to be sabotaged by corruption or poor governance.

 We therefor need to take responsibility for our future. Of cardinal importance in this regard is an active civil society based on critical thinking and democratic values, the acknowledgement of common interests as well as the acceptance of otherness in our diverse society. By doing this we will keep the Mandela dream of peace, prosperity and reconciliation alive. In doing so, the Mandela era need not to come to an end. 

Monday, December 2, 2013

4 REDES WAAROM MEYER SO GOED IS


(My brief in Beeld van 25 November)

Die resensie van Deon Meyer se boek het my laat wonder wat die Afrikaans vir ’n page turner is. Nog ’n vraag, waarom is sy boeke so gewild en wat is die letterkundige waarde daarvan?
Ek het Meyer se Kobra pas gelees en dis ongetwyfeld ’n glip-lees-boek. (My vertaling vir page turner).
Veral vier elemente kenmerk Meyer se skryfwerk:
Die vermoë van Afrikaans om aksiebeelde onder woorde te bring word verbluffend goed geïllustreer;
Daar is ’n spanningslyn wat jou vasgenael hou van begin tot einde;
Die stories is geanker in ’n kontemporêre Suid-Afrika met sy sosio-politiese nuanses. Die leser herken die milieu en identifiseer daarmee; en
Karakterisering. Dis Meyer se sterkpunt. Om Hennie Aucamp by te haal, die karakters ruik na mens.
Die Meyer-oeuvre is ontvlugtings-leesvermaak in snelrat. Dit verruim die Afrikaanse letterkunde, spesifiek die aksie-genre wat lankal nie meer terugstaan vir ander genres nie. Dit is goeie prosa onderlê deur soepel en kreatiewe Afrikaans.
Letterkundige meriete en ’n boeiende storie hoef nie wedersyds uitsluitende begrippe te wees nie. Skrywers soos Meyer kry en hou mense aan die lees. ’n Aanwins vir die lettere dus.



RUBRIEK DEURSPEK MET VOOROORDELE



(My brief in die Beeld van 29 November)

Dít moet ek Christi van der Westhuizen oor haar rubriek in Beeld gelyk gee: Die DA is nie ’n ANC Lite nie!
Beslis nie, want die rasnasionalisme wat die ANC aanhang om ’n rasgebaseerde magshegenomie te behou is teenproduktief vir ’n lewensvatbare veelpartydemokrasie.
Andersins is van der Westhuizen se geniepsige rubriek oor die DA se beleidskonferensie deurspek met ideologiese vooroordele en halwe waarhede.
Nêrens in haar rubriek verwys Van der Westhuizen na die ANC se kwotastelsel nie. ’n Kwotastelsel is omgekeerde apartheid.
Die ANC se strafmaatreëls wat maatskappye wil verplig om aan kwotas te voldoen sal ekonomiese groei in so ’n mate belemmer dat absoluut niemand hierby baat sal vind nie. Daarom is die DA se benadering van aansporing konstruktief en slim.
Die oogmerk moet wees om nie net die markekonomie aan die gang te hou nie, maar om volgehoue groei te verseker met groeiende geleenthede vir alle Suid-Afrikaners.
Historiese ongelykhede moet reggestel word. Daarom ondersteun die DA transformasie en die nodige regstelling wat dit verg. Nepotisme en verdwaalde nasionalisme neutraliseer egter enige poging tot regstelling.