Sunday, February 15, 2015

NUWE GESLAG SKRYWERS MOET STEEDS VRAE VRA

( My brief in die Beeld van Vrydag 13 Februarie 2015 )

By sy ​afsterwe word André P. Brink se oeuvre tereg in eervolle herinnering geroep deur letterkundiges en akademici.
Brink se werk, waarvan die strekking soos Beeld dit beskryf, ’n littérature engagée was – in Afrikaans beskryf as “betrokke letterkunde” – het ’n enorme bydrae gelewer tot die broodnodige protes teen ’n verdrukkende politieke stelsel wat moreel onverdedigbaar was.
Dat die Afrikaanse letterkunde sekerlik beskeie in vergeleke met dié van ander tale is, maak sy trotse tradisies en prestasies juis indrukwekkend.
Saam met Brink het baie ander skrywers hul konserwatiewe lesersgehore met dapperheid uitgedaag om gevestigde waardestelsels en wêreldbeskouings in her­oënskou te neem.
Die oorgang na ’n volwaardige demokrasie waarin alle Suid-Afrikaners se burgerskap en menseregte ten volle erken is, sou nie moontlik gewees het sonder hierdie merkwaardige skrywers nie.
’n Tergende vraag wat hom by my aanmeld, is of die huidige regime se hubris en onverantwoordelike regeringspraktyke eweneens deur ’n nuwe geslag skrywers uitgedaag word.
En ook: Is daar ’n leeskultuur by die tradisionele ANC-ondersteuner by wie skrywers ongemaklike vrae oor die stand van sake kan aktiveer?
’n Tradisie en kultuur van “lojale verset” (N.P. Van Wyk Louw) was nog nooit so noodsaaklik as juis nou nie.

1 comment: