Monday, February 9, 2015

ANDRÉ P BRINK (1935 - 2015)

Hiermee 'n essay ( 2009) by geleentheid van André P se afsterwe.


YOU ONLY LIVE TWICE – ‘N LITERÈRE-ETE SAAM MET ANDRÉ P BRINK

Die Insig-boeketafel word op ‘n warm Saterdagmiddag by die Centurion Lake Hotel gehou. Ons tafel is vlak voor die verhogie waar Ruda Landman die onderhoud met André P Brink sal voer. Dit val saam met die bekendstelling van Brink se memoir – Vurk in die pad. 
Die voorgereg is ‘n vars biltongslaai wat ek afsluk met ‘n koel Merlot van Laborie. Ons kuier gesellig saam met ons tafelgenote. Die tafel is gedek, letterlik en figuurlik, vir ‘n   letterkundige reis saam met die über Afrikaanse letterkundige.  
Ruda en Andre neem hulle plekke in op sulke groot leunstoele op die verhogie.  Ruda, intelligent en wyd belese, is die ideale persoon om ‘n onderhoud met André P Brink te voer.
Die gesprek is indringend en openhartig. Oor skrywerskap is André se mantra dit: You only live twice. ‘n Mens lewe, verduidelik hy, deur middel van ‘n reeks handelinge. Dan beleef jy dit ‘n tweede keer wanneer jy dit wat met jou gebeur het oordink, en in ‘n skrywer se geval, daaroor skryf. So plaas jy dit wat met jou gebeur binne perspektief. Jy heg waardes daaraan om sin daaraan te verleen.
Hy noem die driehoek van sy liefde vir kuns: skilderkuns, musiek en skryf. Dit is die mediums wat die mens inspan om sin te maak van hierdie ding wat ons lewe noem. Hy skryf altyd met musiek op die agtergrond, veral Mozart.
Die gesprek verskuif onvermydelik na sy verhouding met Ingrid Jonker. Hy praat oor hulle liefde en hoe stormagtig hulle verhouding was. Hy beskryf haar as beeldskoon en intelligent. Hy vertel ook van die onmoontlike eise wat sy aan hom en haar vriende gestel het. Sy het dikwels gedreig, en soms probeer, om selfmoord te pleeg. Hy onthou die dag toe hy die nuus oor haar dood ontvang het. Hulle verhouding was toe reeds ‘n paar maande iets van die verlede. Hy was so geskok dat hy vir die res van die dag blind was.
Die Sestigers, vertel hy, was nooit ‘n vaste beweging nie. Skrywers soos hyself, Chris Barnard en Breyten Breytenbach was net absoluut sat vir ‘n Afrikaanse letterkunde wat hoofsaaklik oor droogtes en sprinkaaplae gehandel het. Veral na swerfjare in Parys, destyds die mekka van avant garde kunstenaars van regoor die wêreld, het hy en ander diep onder die indruk gekom van die feit dat stories op verskillende maniere vertel kan word. Hier het hulle ook bewus geword van die eksistensialisme en dit, goddank, in ons lettere ingevoer.
Terug in Suid-Afrika en bewus van die onreg van apartheid het hy hom gou as die vernaamste eksponent van protesletterkunde gevestig. Sy boek, Kennis van die aand (1973), wat die verhaal van liefde oor die kleurgrens vertel, is die eerste Afrikaanse boek wat verban is.
Hy vertel van ‘n onlangse besoek aan ‘n Joodse museum in Pole. Hier word items van Joodse gevangenes uitgestal. Iets wat hom aangeraak het is ‘n gediggie wat ‘n kind met die hand op ‘n stuk papier geskryf het: “Hier in die konsentrasiekamp het ek nie vlinders gesien nie.”  Terwyl hy vertel raak hy so bewoë dat hy eers moet wag om sy stem terug te kry alvorens hy verder vertel. Juis daarin lê die krag van die geskrewe woord, gaan hy voort, dat daardie kind nie vlinders kon sien nie, maar dit met woorde kon herskep.
Hy vertel van sy ontgogeling met korrupsie en magsvergrype deur die ANC. Spyt is hy egter nie oor sy stryd vir vryheid en demokrasie nie. Hy sal nie die land verlaat nie omdat dit verraad sal wees teenoor sy voorgeslagte wat hulself so moeisaam hier aan die suidpunt van Afrika kom vestig het.
Na ‘n heerlike middagmaal en baie glase Merlot is dit tyd vir André om boeke te onderteken. Vir my onderteken hy ‘n Vurk in die pad (2009) en Die Ambassadeur (1963).
‘n Middag saam met een van die grotes. ‘n Viering van die literêre woord. Soos Audrey Blignault sou sê: ”‘n Blywende vreugde.”

Francois Bekker - 2009  

No comments:

Post a Comment