Wednesday, October 15, 2014

TSHWANE STIL OOR LUGHAWE

    (My brief in vandag se Tshwane-Beeld)                                                      

TSHWANE STIL OOR WONDERBOOM

Die artikel oor die Wonderboomlughawe se probleme en hofsaak teen die Tshwane Metro in dié verband ( Tshwane Beeld, 8 Oktober) verdien verdere kommentaar.

As die DA se woordvoerder oor vervoer in Tshwane, kan ek beaam dat hierdie lughawe ly onder algehele wanadministarsie deur die Tshwane-metro. Stel jou 'n lughawe sonder brandstof voor en wanneer dit beskikbaar is (wat net soms die geval is), die duurste in die ganse Suid-Afrika - en 'n mens verstaan dat daar groot fout is.

Ekself probeer al die afgelope drie jaar konstruktiewe reaksie van die Metro kry in dié verband. So is amptelike vrae gestel wat onbeantwoord is. Mosies is ingedien wat sonder sinvolle oorweging summier van die tafel gevee is.
 Op die oomblik staan my vervoer-kollegas sowel  op provinsiale as nasionale vlak my by om die probleem te takel met die oog daarop om  oplossings te vind.

Die DA het volkome begrip vir die frustrasies wat vlieëniers en eienaars van lugvaartondernemings by die Wonderboom-lughawe ervaar.
Dat hierdie mense die metro moet hof toe sleep om sinvolle samewerking van die metro te kry, is betreurenswaardig en reflekteer uiters negatief op die Tshwane Metro.

Die Tshwane-metro het bewys dat hy nie oor die vermoë beskik om die lughawe suksesvol te bestuur nie. 'n Gans ander model is nodig om suksesvolle lugvaartbestuur te verseker met die oog daarop om die lughawe ekonomies lewensvatbaar te maak. Enige proses wat alternatiewe modelle ondersoek, moet deursigtig wees om geloofwaardigheid en vertroue te verseker. En sonder die samewerking en inspraak van die belanghebbendes by die lughawe sal enige proses met agterdog bejeën word. Miskien sal die hof só 'n regverdige proses aan die lughawe opdwing.

1 comment: