Monday, January 19, 2015

FW DE KLERK VERDIEN STRAATNAAM-EER

                                                    
(My brief in Vrydag se Beeld)

As daar 'n leier is wat dit  verdien om vereer te word deur 'n straat na hom te noem, is dit oudpres. FW de Klerk.

Etikette soos pragmatis, staatsman en bedrewe politkus hang gemaklik om sy nek.

My persoonlike belewenis as Afrikaner tydens sy presidentskap was dat hy die Afrikaner 'n ander gesig gegee het, 'n gesig van vredeliewende redelikheid wat ernstig is in ons soeke na 'n oplossing vir die doodloopstrast waarin ons onsself bevind het. Na die 2 Februarie 1990-toespraak kon ons as Afrikaners weer die wêreld vierkant in die oë kyk.

Sy vasberandenheid om te midde van gevreesde reaksies van die radikale linker-sowel as regterkant van die politieke spektrum en om alle  Suid-Afrikaners se menswaardigheid en volle burgerskap te erken en te herstel,  was en is merkwaardig.

Om homself uit 'n posisie van mag te onderhandel, kon sekerlik nie maklik gewees het nie. Sy toekomsvisie gebaseer op regverdigheid om sodoende 'n grondslag te lê vir 'n voorspoedige toekoms vir alle redelike Suid-Afrikaners het swaarder geweeg as eng party politieke belange. Hy is daarom paslik saam met oudpres. Nelson Mandela met die Nobelprys vir vrede  vereer.

Plek-en straatname moet histories inklusief wees om nasiebou te bevorder met die oog op 'n vredevolle en voorspoedige toekoms. FW de Klerk se nalatenskap staan in die teken van nasiebou, vrede en 'n soeke na voorspoed vir alle Suid-Afrikaners. 


1 comment: